18/09/2025
Hier aan die begin van die lente begin droom ek al van somerpieknieks. En hierdie is 'n baie spesiale bederf vir daardie piekniekmandjie. Of mooi uitgestal op 'n mooi gedekte tafel onder die bome vir 'n lekker buitelugete. Dit verg so n bietjie meer moeite maar dis oor en oor die moeite werd.
Olyfbrood met tapenade
Lewer 2 groot ronde brode
Vir die brood
5 - 5½ koppies witbroodmeel
1 pakkie kitsgis
¼ teelepel suiker
1½ teelepels sout
¾ koppie warm water
1½ koppies warm melk
⅓ koppie olyfolie
1 koppie groen olywe wat met soetrissie gestop is, goed gedreineer, effe drooggedruk met handdoekpapier en gehalveer
2 koppies ontpitte swart olywe, goed gedreineer, effe drooggedruk met handdoekpapier en gehalveer
Vir die tapenade
2 koppies ontpitte swart olywe
1 eetlepel kappertjiesaad
1 ansjovisfillet
4 eetlepels olyfolie
1 eetlepel suurlemoensap
½ teelepel aangemaakte mosterd
2 knoffeltoontjies, gekneus
1 eetlepel vars gekapte pietersielie
varsgemaalde swartpeper
Giet 2 koppies van die broodmeel in ‘n groot mengbak en meng met die kitsgis, suiker en sout. Voeg die warm water, melk en olyfolie by en meng baie goed totdat jy ‘n gladde mengsel het. Voeg nou die res van die meel ‘n halwe koppie op ‘n lsga by totdat jy ‘n sagte, hanteerbare deeg het wat van die kante van die bak wegtrek. Keer die deeg op ‘n meelbestrooide oppervlak uit en knie vir 4 minute totdat die deeg lekker elasties is. Plaas die deeg in ‘n goort bak wat met olyfolie gesmeer is. Draai die deeg om sodat dit alkant liggies met die olie gesmeer is. Bedek die bak met kleefplastiek en laat staan by kamertemperatuur totdat dit verdubbel het in grootte (dit neem ongeveer 1½uur). Knie die deeg effens af en keer dit uit op ‘n oppervalk wat liggies met meel bestrooi is. Verdeel die deeg in twee ewegroot hellftes en vorm twee groot plat ovaalvorms. Meng die twee soorte olywe en strooi die een helfte op die een ovaal en die ander helfte oor die ander. Druk die olywe liggies in die deeg in en gebruik ‘n koekroller om die olywe in die deeg in te rol. Vorm elke ovaal in ‘n stewige ronde bal en plaas ‘n entjie van mekaar af op ‘n bakplaat wat met bakpapier gevoer is. Bedek dit liggies met kleefplastiek en laat staan eenkant om te rys, ongeveer 45 minute lank. Verwyder die kleefplastiek en plaas die bakplaat met die brode in ‘n voorverhitte oond van 190ºC vir 40 – 45 minute. Haal uit die oond uit en plaas onmiddellike op ‘n draadrak om af te koel. Bedien met regte botter en tapenade. Vir die tapenade: Spoel die olywe goed af en plaas saam met die ander bestanddele in die bekergedeelte van die voedselverwerker. Meng goed todta jy ‘n lekker gladde smeer het en skep uit in ‘n mooi mengbakkie. Bedek met kleefplastiek en plaas in die yskas tot net voor opdiening.
WENK: Wanneer jy die deeg knie en dit bly steeds aan jou hande vaskleef, kan jy nog ‘n bietjie meel byvoeg. Maar voeg slegs 1 eetlepel op ‘n slag by sodat die deeg nie te droog word nie. Moenie bekommerd wees as jy die olywe by die deeg voeg en dit lyk asof die twee mekaar nie kan vind nie. Wanneer die deeg weer begin rys, kom alles baie mooi bymekaar.