29/09/2026
MOENIE JOU MANNA VIR MÔRE HOU NIE...
Moenie jou manna vir môre probeer bêre nie…
dit word vrot....
Elke oggend wanneer jy jou manna optel,
en jy daardie sagte stem van die Heilige Gees hoor:
“Gaan deel dit.”
Moenie uitstel nie.
Dit mag môre te laat wees.
Vir twee jaar het die Heilige Gees my aangespoor om met ’n sekere vrou in ons dorp my manna te gaan deel.
Sy was talentvol.
Sy was geliefd.
Sy was mooi.
Maar sy was vasgevang in verslawing.
Dit het haar lewe gebreek…
en dit het haar gesin seer en stukkend gelaat.
Elke keer wanneer ek die stem gehoor het, het ek uitgestel.
Ek het vergeet.
Ek het gedink: “Ek sal later gaan.”
Maar elke keer wanneer ek haar gesien het, vasgevang onder die mag waarmee sy so gesukkel het, het ek dit weer gehoor:
“Gaan deel met haar.”
En so het maande verbygegaan…
Tot een oggend die nuus gekom het:
Sy is dood.
Daardie teleurstelling in myself
kan ek nie beskryf nie.
Selfs vandag nog dink ek daaraan.
“Here, sê nou net my manna wat ek met haar sou gedeel het, kon haar red… haar verlos… haar vrymaak.”
Sê nou net dit kon ’n familie herstel het....
Maar ek sal nooit weet nie.
Dit gaan nie oor my nie.
Dit gaan nie oor jou nie.
Dit gaan oor gehoorsaamheid.
Wanneer God vir jou sê om jou manna te deel,
deel dit.
Moenie dit vir jouself hou nie.
Moenie uitstel nie.
Moenie dink jy sal môre gaan nie.
Want die manna wat God vandag vir jou gee,
is dalk bedoel om iemand anders vandag te voed.
En as jy dit nie uitdeel nie,
sal dit buitendien vrot word.
“Niemand moet iets daarvan tot die volgende môre laat oorbly nie.”
Eksodus 16:19
Môre gee Hy weer nuwe manna.
Ek het gebid.
Ek het bely.
Ek het Hom gevra om my te vergewe.
Maar een ding weet ek vandag:
Ek sal nooit weer huiwer wanneer Hy my stuur nie.
Maak nie saak waar nie.
Maak nie saak wie nie.
Maak nie saak hoe ongemaklik dit voel nie.
Ek sal gaan.
Ek sal Sy goedheid vertel.
Ek sal van Sy redding vertel.
Ek sal van Sy vergifnis vertel.
Ek sal van Sy vrymaking vertel.
Want jou manna is nie net vir jou nie.
DEEL JOU MANNA.
MOENIE UITSTEL NIE.
GEHOORSAAM WANNEER HY PRAAT.
Dit mag vandag iemand se LAASTE geleentheid wees.
-Blom-