09/09/2015
Lente is hier! By ons is dit egter nog koud en winter wil ons net nie los nie. Die Augustus winde begin nou eers te waai en ai, ons stry teen die stof elke dag in ons ou klein dorpie. Die son skyn heerlik en die helder blou lug is pragtig. Vandag wil ek vertel van ons dorpie, Britstown! Almal vra altyd, wat doen julle hier! Naaste hospitaal, dokters, tandartse, apteek, Checkers, Shoprite in De Aar!!!!! As ons groot inkopies wil doen of iets soos 'n stortgordyn wil he wat nie plastiek is nie, moet ons Kimberley of Bloemfontein toe ry!! Ons leef! Die spanning van die groot stede beleef ons nog nie, verkeer is daar amper nie, almal weet van almal en almal help waar hulle kan help. Ons het 'n ouetehuis, Huis Daneel, waar daar oumensies is wat baie na aan ons almal se harte is en vir wie ons baie lief is. Ons het 'n pragtige kerk, 'n paar gastehuise, waarvan ons een is, algemene handelaars,'n slaghuis (lekkerste wors in die omgewing), Gentle Care, OVK, poskantoor, polisiestasie, verkeersdepartement, 'n Shell garage, 'n Quest garage en mense wat omgee vir mekaar en mensies met los tonge, ja nee, elke klein dorpie het dit maar. Ons steun op mekaar en ons hou mekaar regop deur moeilike tye. Ons kla bymekaar as dit stil is en die karre is min wat deur ons dorpie ry en ons lag en geniet dit as die karre meer raak en dit dus beter gaan met die besighede. Ons is nie 'n vakansie dorpie nie, ons is 'n deurry dorpie, 'n oornag dorpie. Al wanneer jy hier kuier is as jy familie hier het en dan ook nie te lank nie, want ons het nie 'n mall nie, inry of fliek nie, net die klein kroegie by ons, waar as jy gelukkig is jy die plaaslike mense ontmoet, die lekker gesels oor die reen wat wegbly, die skaapprys van die dag, die Smartt Sindikaat dam wat leeg is en die boere by die Sindikaat wat nou al twee jaar nie kon plant nie, die heerlike kaaskoek by die Karoo Lodge, die lekker gesels by die kaggelvuur as dit koud is. Die lee huise in die strate, die trokke wat brom brom deur die dorp ry op die N12, die jongmense wat ons verlaat omdat daar nie werk is nie, die honger kinders in die strate wat nou elke Woensdag ietsie kry om te eet as hulle die strate skoon hou deur vuilgoed op te tel en in te gee. Ons reel fondsinsamelings vir die Ouetehuis, die kerke. Ons hou ons donkie kompetisie in Oktober en ons Vatvyf in Junie. Dit is Britstown, mense met baie lief en leed, mense met swaarkry, maar mense wat omgee! So volgende keer as julle hier deurry, stop, groet en gesels! Ons sien uit daarna!!!!